Thursday 26 April 2012

Ek blog ook... Uiteindelik!


Ek het nou besluit om ook aan te sluit by die bloggers. Hier gaan ek jou meer vertel wat alles in my lewe aangaan. Sang , Radio en so klein bietjie van my persoonlike lewe... maar nie te veel ;) 

As Sanger en Radio omroeper woon ek baie funksies by. Ek sal jou op hoogte hou van al die nuwe dinge wat in die musiekbedryf aangaan. So klein bietjie skindernuus - als sal wel feite wees.

By Bok Radio gaan dit baie goed. Ek is bevorder na die Ontbyt program (weeksdae: 6-9vm) Dit is 'n groot aanpassing vir al omdat ek nog nooit in my lewe voor 8h opgestaan het nie. Amper 3 weke op die program en ek raak nou al vanself half 5 wakker. Dit is baie anders as my 11vm-1nm Le-Lue en Vriende program, meer georganiseerd, vinniger en daar is nie kans vir nonsens praat nie. Ek is 9h skoon moeg, maar dis heerlik om saam met jou in jou motor op pad werk of skool toe te kuier. Wimpie (ons stasiebestuurder) het opdrag gegee dat ons meer Engels moet praat op die stasie agv lisensie voorwaardes. Vir 'n plattelandse Malmesbury meisie is dit maar moeilik so ek los die Engels gepratery maar vir my kollegas. Jy kan gerus luister op www.bokradio.co.za of in die Kaap omgewing op 98.9fm

 
Mei maand is ek gevra om saam met die SAPS as Sangeres te toer. 'n Fondsinsameling waar die geld aan Polisie-beamptes wat aan diens gesterf het se kinders gaan om hulle skool toe te stuur. Ek dink dis 'n ongelooflike goeie saak en voel baie bevoorreg om deel te wees van die toer. 'n hele klomp SAPS beamptes gaan terselfde tyd 'n fietstoer doen. Bok Radio se Karlien Kruger ry saam. Sy oefen haar dood!! Vir verdere inligting rondom die konserte of om betrokke te raak, kontak 0742860417


 Die Suid Afrikaanse Musiek bedryf het ook hierdie week met groot hartseer verneem dat Anneke de Villiers, eks vrou van Jannie Moolman, Dinsdag 24 April haar eie lewe geneem het in haar pa se plaashuis. Ek het die geleentheid gehad om haar so paar jaar terug te ontmoet. Alhoewel ek haar glad nie goed geken het nie, het ek baie respek vir haar gehad. Sy was 'n sagte vrou en baie passievol oor musiek. Dis so hartseer dat die bedryf vir soveel mense te erg raak. Die druk van alle kante, die laat aande op die paaie en baie weg van die huis. Dis eintlik 'n baie eensame bedryf... Die jaar is nog net 4 maande oud en klaar moes ons vir soveel legendes totsiens se. Andrew Thompson wat ook sy eie lewe geneem het in Februarie en Zak van Niekerk wat in Maart in 'n motor ongeluk oorlede is. Ek bid dat Die Here sy hand oor ons SA kunstenaars hou wat so baie op die pad is.

Wel, ek dink ek het genoeg geblog vir vandag... Lino diue Bryn ou het my so mooi gehelp met die storie. Jy weet mos hy is die man by Bok Radio wat die meeste van tegnologie en die dinge weet. Hy moedig ons almal aan om aktief op die sosiale netwerke te wees. Dankie Lino!!

Praat gou weer.

Hou dit geheim, die dorp is klein*

Le-Lue